WELKOM

by my sake-inligting-blaaie

Die vernaamste oortuigings wat my bedrywighede onderlê, word hier onder geskets. Al die hoofskakels hiernaas klik deur na Afrikaanse bladsye, maar van die uitgebreide inhoud verskyn slegs in Engels. My dienste is egter volledig ook in Afrikaans beskikbaar.

Ek is in die taal-besigheid. Ek vertaal, redigeer en proeflees, en bied meestal taalgerigte seminare aan wat allesbehalwe alledaags is. Ek spesialiseer in Engels en Afrikaans.

My algehele en uiteindelike oogmerk is om in my kliënte 'n sterk bewustheid te kweek van die onmiskenbare verband tussen respek en duidelike kommunikasie, en om hulle te help om hul seggingskrag te verbeter, in sowel geskrewe as gesproke taal.

Hoe om jouself te "verkoop" – en hoe belangrik dit is

Daar word dikwels in sake-kringe gesê dat as jy jou produkte of dienste wil verkoop, jy eers jouself moet verkoop.

Om jouself te verkoop beteken eenvoudig dat die wyse waarop jy met ander mense omgaan, hulle laat voel dat dit 'n positiewe ervaring is om in jou geselskap te wees of met jou sake te doen. Dit is uiteraard belangrik met betrekking tot kliënte en klante, maar is eweneens die geval met betrekking tot jou kollegas (insluitend jou ondergeskiktes en meerderes) as harmonie en maksimum samewerking iets is wat jy verlang.

Die meeste mense weet dat om hoflikheid en respek teenoor ander te toon, een van die vernaamste sleutels tot die skep en handhawing van uitstekende verhoudings is. Wat egter nie altyd besef word nie, is dat een van die belangrikste aanduidings van hoflikheid en respek die manier is waarop ons met mense kommunikeer, hetsy ons praat of skryf, en of die betrokke verhoudings persoonlik of professioneel is.

Hoe meer moeite ek doen om op 'n deurdagte wyse met iemand te kommunikeer, hoe meer sê ek in werklikheid:

"Jy is belangrik genoeg vir my om my boodskap so doeltreffend en duidelik as moontlik aan jou oor te dra – ek verwag nie dat jy jou uitermate moet inspan om my te probeer verstaan nie."

Die Amerikaanse geneeskundige en skrywer John Andrew Holmes het die volgende diepsinnige opmerking gemaak:

"Dit is raadsaam om te onthou dat die ganse heelal, op een nietige uitsondering na, uit ander mense bestaan."

Duidelike en deurdagte kommunikasie met daardie "ander mense" sal baie daartoe bydra om hulle respek en hulle vertroue te wen en ons verhoudings met hulle op 'n hoër vlak te bring.

Dit is die moeite werd om die nodige vaardighede in ons besighede te ontwikkel om hierdie soort kommunikasie te bewerkstellig, wat ook al die medium. Ons kliënte sal ons des te meer daarvoor waardeer.

Die meeste van die elemente van my besigheid kan uiteindelik met hierdie oortuiging in verband gebring word. Dit is wat my vertaling en redigering ingee, en wanneer dit by my seminare kom, is my oogmerk om my kliënte toe te rus om hierdie beginsel in alle fasette van hulle lewens uit te leef.

Dankie dat jy my webwerf besoek het. Ek sien daarna uit om jou met my nis-seminare en taaldienste te kan dien, asook met enigiets wat ek in samewerking met my opleidingsgenote vir jou kan reël.

Klik hier vir nog oor die belangrike verwantskap tussen kommunikasie en respek.

Besoek gerus my Write thinking-blog – jy sal interessante taalverwante aantekeninge daar vind.

Alhoewel die artikels in Engels geskryf is, en merendeels op Engels betrekking het, is van die beginsels en begrippe algemeen geldig en dus nie tot Engels beperk nie.

  • blogicon
  • PCB
  • boutique books
  • Face Book