NOG OOR KORREKTHEID, HOFLIKHEID

EN KOMMUNIKASIE

Min dinge is belangriker vir die doeltreffendheid, effektiwiteit en gesondheid van 'n organisasie as harmonieuse verhoudinge tussen kollegas en tussen meerderes en ondergeskiktes.

'n Groot en vername boublok vir uitmuntende verhoudinge is opregte respek vir ander; en een van die belangrikste maniere waarop mens daardie respek kan toon, is om elke poging aan te wend om duidelik te kommunikeer.

Waarom is duidelike kommunikasie so belangrik?

Lynne Truss, skrywer van Eats, Shoots and Leaves, 'n uitsonderlik goed geskrewe en nuttige boekie oor interpunksie, sê dat om korrek te skryf, bloot beleefd is. Dis net eenvoudig hoflik, sê sy, om jou lesers die moeite te bespaar om 'n klomp harde werk te doen om jou te verstaan wat jy self in die eerste plek moes gedoen het deur duidelik te kommunikeer.

Kathy Kleidermacher skryf in Copywriter's Words & Phrases, dat sy nie wil "skoonmaak" agter mense aan wat nie self die moeite gedoen het om hulle eie dokumente skoon te maak nie.

Wat albei dames sê, is dat hoe meer doelbewus jou pogings om duidelik met iemand te kommunikeer, hoe meer sê jy by implikasie aan daardie persoon: "Jy is vir my belangrik genoeg dat ek my boodskap so eenvoudig en duidelik moontlik aan jou wil oordra, eerder as om te verwag dat jy jou uitermate moet inspan om my te probeer verstaan."

Respek. Hoflikheid. Bedagsaamheid. Inagneming van die ander persoon. Hierdie dinge verryk verhoudinge.

Dit is áltyd waar, wat die kommunikasiemedium ook al mag wees: hetsy mondeling, skriftelik of fisiek.

En dit is ewe waar in persoonlike verhoudinge en in professioneles.

Ontwikkel en koester hierdie houdings; hulle maak wel 'n verskil.

... En daar is nóg meer oor hierdie baie belangrike onderwerp op een van my blogs – klik hier. Jy sal ook die ander artikels op daardie bladsy geniet!

  • blogicon
  • PCB
  • boutique books
  • Face Book